27/06/2021
🦠 PAS BEKEND: SA terug op vlak 4 - alles wat jy móét weet
President Cyril Ramaphosa het Sondagaand in sy jongste toespraak aangekondig dat Suid-Afrika vir twee weke lank hard ingeperk sal word, en dat talle nuwe regulasies oor dié periode ingestel sal word.
Die toespraak volg ná hy met die presidensiële koördineringsraad, die provinsiale premiers, die bevelsraad en die kabinet vergader het.
Só raak die jongste veranderinge in die regulasies jou:
🚨 Vlak van inperking: Suid-Afrika beweeg na 'n aangepaste vlak 4 van die inperkingsmaatreëls vir twee weke lank (vanaf 28 Junie tot 11 Julie).
⏰ Aandklokreël: Die aandklokreël sal nou daagliks van 21:00 tot 04:00 geld.
Nie-noodsaaklike instellings moet reeds teen 20:00 saans sluit, om seker te maak dat hul werknemers teen aandklok tuis is.
🍕 Restaurante: Restaurante mag slegs wegneemetes bedien, of aflewerings doen.
✏️ Skole: Skole sal vanaf Woensdag vir skoolvakansie gesluit word. Alle skole landwyd moet teen Vrydag gesluit wees.
✈️ Reisbeperking: Die reis van en na Gauteng vir ontspanning word verbied. Reis tussen ander provinsies vir ontspanning word toegelaat.
⚰️ Begrafnisse: Nie meer as 50 mense mag 'n begrafnis of verassing bywoon nie. Geen byeenkomste ná begrafnisse of nagwake word toegelaat nie.
🏡 Kwarentyn: Jy moet voortaan vir 10 dae in isolasie bly indien jy met iemand in kontak gekom het wat met die koronavirus geïnfekteer is.
⚽️ Openbare ruimtes: Alle openbare parke, strande, sportgronde en areas bly oop - maar geen byeenkomste word toegelaat nie.
🍻 Drank: 'n Algehele drankverbod word ingestel, wat beteken dat drank nie bedien, verkoop of vervoer mag word nie.
🏘 Byeenkomste: Alle sosiale, politieke, kulturele en gelowige byeenkomste word verbied.
Die reël is nie op begrafnisse en verassings van toepassing nie.
🥽 Maskers: Die dra van 'n masker in publieke areas bly verpligtend. Dit is 'n misdaad indien jy nie 'n masker in die publiek dra nie.
💉 Inentings: Diegene bo 50-jarige ouderdom sal vanaf 1 Julie vir 'n dosis entstof kan registreer, met inentings vir dié ouderdomsgroep wat vanaf 15 Julie afskop.
"Dié inperkingsmaatreëls is nodig om die dreigende Delta-variant, wat die derde vlaag van infeksies in die land dryf, te bestuur," sê Ramaphosa.
Die inperkingsmaatreëls tree vanaand om middernag in werking. Ná twee weke sal die bevelsraad besluit of dié inperkingsmaatreëls opgeskort of verleng moet word.